Kom ons gesels
Kom ons gesels is ’n gestruktureerde, ouderdomsgerigte gespreksgids wat ouers toerus om op ’n natuurlike, veilige en Bybels-gegronde manier met hul kinders oor identiteit, hul liggaam, seksualiteit en paraatheid te praat, maar ook koester oomblikke tussen ouer en kind te skep. Die boek bestaan uit 26 dagstukkies of liewer “gesprekstukkies” wat ontwerp is om gesprekke geleidelik en ontwikkelingsgepas te open.
Die gesprekke begin deur ’n kind se identiteit te vestig in die wete dat hy of sy uniek en doelbewus geskep is. Vanuit hierdie fondament beweeg die inhoud na basiese liggaamskennis en die benoeming van liggaamsdele, waarna temas soos geboorte, geslag, huwelik en voortplanting op ’n sensitiewe en verstaanbare manier verduidelik word. Die biologiese aspekte word eenvoudig en eerlik hanteer, altyd binne die konteks van veiligheid, waardigheid en die ouderdomsriglyn vir die kind.
’n Sterk fokus van die boek is liggaamsveiligheid. Kinders leer wat privaatheid beteken, hoe om veilige en onveilige aanraking te onderskei, dat hulle die reg het om “nee” te sê, en dat geheime wat ongemaklik voel altyd met ’n betroubare volwassene gedeel moet word. Daar word ook aandag gegee aan moderne uitdagings soos die blootstelling aan onvanpaste prentjies en digitale inhoud soos onveilige prentjies (pornografie).
Elke dagstuk bevat gesprekspunte, praktiese vrae, ‘n skrifgedeelte en speelse aktiwiteite wat interaksie bevorder en vertroue tussen ouer en kind versterk. Daar is ouderdom spesifieke gesprekke wat as riglyne dien vir dieper inhoud soos kinders meer volwasse en gereed raak. Die verskillende ouderdom riglyne is 5 jaar en ouer, 7 jaar en ouer en 9 jaar en ouer. Die toon is warm, toeganklik en doelbewus gesprek gedrewe, nie ’n “preek” nie, maar ’n uitnodiging om saam te praat..
Kom ons gesels bied ’n proaktiewe benadering tot ’n onderwerp wat dikwels vermy word, en help ouers om die primêre stem in hul kind se vormingsproses te bly.
